WAT IS DIE WERKSAAMHEDE VAN BOSVELD JAGTERSVERENIGING??

1. Opleiding: Opleiding vorm ‘n belangrike deel van ons aktiwiteite. Elke lid kan die Chasa bekwaamheidslesings bywoon wat hom die praktiese inligting verskaf om sy wapen veilig te hanteer; om te weet waar hy sy bok moet skiet; om algemene kennis van wild op te doen; om sy bok se vel huis toe te neem deur die korrekte manier die bok “uit te klee”; Oorlewing en dergelike onderwerpe. Ons hou gereelde skietdae waar jagters mekaar kan meet aan prestasies wat almal kan sien en tel. Spoorsny kursusse word gehou vir Juniors en Seniors waar die moeilike en praktiese kennis om ‘n spoor te sny geleer word.

2. Akkreditasie: Dit is en word nog daagliks meer belangrik. Die huidige wetgewing noodsaak elke wapeneienaar om homself te bekwaam en om Toegewyde Jagter Status te bekom. Dit sluit in dat hy meer as 4 wapens mag besit en meer as 200 rondtes per wapen plus dat hy elke 10 jaar sy lisensie moet vernuwe. Om hierdie status te kry is dit nodig dat die jagter die Chasa toets slaag in sy teorie en praktiese afdelings.

3. Trofee Kompetisie; Jaarliks aan die einde van die jagseisoen word dié kompetisie gehou om elke jagter ‘n kans te gee om sy trofee wat hyself in daardie jaar geskiet het te laat meet om te bepaal wie is die kampioen jagter. Hy kan selfs sy trofee laat inskryf in die S.A. Rekord boek wanneer sy trofee die minimum afmetings behaal.

4. Takstigting: Die Vereniging moedig die sinvolle stigting van takke aan om sodoende ons volledige spektrum van al ons aktiwiteite na ons lede op grondvlak uit te dra. In ander woorde ons bring die Vereniging binne bereik van alle mense wat die behoefte het om lid te word.

5. Admin Kantoor: Die BJV se hoofkantoor is gedesentraliseeerd. Ons sekeretaresse is Anél en sy kan gekontak word by Tel: (27)15-516 1431. Alle inligting van takke kan by die taksekretarisse(esses) gekry word (sien elke tak se webbladsye vir kontaknommers).