GRONDWET VAN DIE BOSVELD JAGTERS- EN
WILDBEWARINGSVERENIGING

Hersiene Grondwet 2024

1.      AANHEF:

In nederigheid erken ons God Drie-enig as Skepper en Heerser oor die Heelal en ondergeskik aan Sy Oppergesag, stel ons onsself as lede van die Bosveld Jagters- en Wildbewaring vereniging

2.      NAAM:

Die naam van die Vereniging is Bosveld Jagters- en Wildbewaring vereniging, hierna gerieflikheidshalwe na verwys as “die vereniging”.

3.      REGSPERSOONLIKHEID:

Die vereniging wat bestaan uit die uitvoerende bestuurslede en afsonderlike takke (elk met hulle eie afsonderlike bestuurslede) word hiermee met regspersoonlikheid beklee, en sal, ten spyte van enige verandering van sy lede of sy uitvoerende bestuur of takbestuur as ‘n vereniging met ‘n eie regspersoonlikheid funksioneer.

       Hierdie regspersoonlikheid word uitgebrei dat elke tak met afsonderlike regspersoonlikheid beklee word en sal funksioneer onder leiding van die uitvoerende bestuur kragtens    hierdie Grondwet en gepaardgaande beleidskrifte soos van tyd tot tyd uitgereik mag word deur die uitvoerende bestuur.

 Die vereniging insluitende takke sal deur die betrokke bestuur van die vereniging   (hetsy op uitvoerende vlak of op tak vlak), in eie naam en onafhanklik van sy lede, bates kan besit of huur of verhuur, laste en verpligtinge aangaan, ooreenkomste en kontrakte sluit in die naam van die vereniging en/of betrokke tak (na gelang van die geval) Die vereniging sal ook in eie naam en onafhanklik van sy lede en in tak verband (indien van toepassing) regsgedinge kan aangaan of teenstaan, kan dagvaar of gedagvaar word.

 Elke tak sal afsonderlik aanspreeklik wees vir regsverpligtinge of ooreenkomste in eie naam van die tak aangegaan en verantwoordelik wees vir hulle eie kostes of uitgawes. Alle besluite geneem en gemagtig kragtens hierdie Grondwet of  beleidskrifte moet geneem word ter nastrewing van doelstellings van die vereniging en waar ’n tak egter optree in opdrag van die uitvoerende bestuur of volgens enige beleid skrif of voorskrifte van die vereniging se uitvoerende bestuur en enige eis ontstaan as gevolg daarvan, sal die vereniging se uitvoerende bestuur aanspreeklikheid opdoen binne die raamwerk van die vereniging.

Geen ampsdraers in die vereniging sal egter persoonlike aanspreeklikheid opdoen vir uitvoering van pligte binne die vereniging nie.

4.      UITVOERENDE KANTOOR

Die uitvoerende kantoor van die vereniging is te PIETERSBURG / POLOKWANE of soos van tyd tot tyd vasgestel deur die algemene vergadering.

5.      DOELSTELLINGE:

5.1   Om kennis op te doen van die wild- en natuurlewe.

5.2   Om met ander organisasies en instansies saam te werk wat dieselfde, en soortegelyke doelwitte nastreef as hierdie vereniging en in die algemeen alles te doen wat bevorderlik is vir die bewaring, beskerming, aanvulling en volhoubare benutting van die wild- en natuurlewe in die algemeen.

5.3   Om die jag van wild op selektiewe, oordeelkundige en etiese wyse in die algemeen te bevorder en niks te doen of toe te laat wat strydig is met enige landswet, of ordonnansie met betrekking tot wildbewaring en natuurlewe in die algemeen nie.

5.4   Die vereniging is   ‘n nie-wins Organisasie.

5.5   Die vereniging is ‘n nie-politieke Organisasie en het geen politieke affiliasie nie.

5.6   Om ons kultuurerfenis van jag- en jagwapens te behou en enige bedreiging daarteen ten sterkste teen te staan. Om hierdie kultuur van jag- en jagwapens aktief uit te leef, te bevorder en uit te brei, veral onder die jeug. Om deel te wees, volgens keuse, van enige verteenwoordigende verkose liggaam, organisasie of vereniging wat op ‘n gekoördineerde wyse hierdie jag- en jagwapen kultuur beskerm en uitdra.

 

6.      LIDMAATSKAP:

Die voorwaardes en vereistes vir die toekenning en behoud van lidmaatskap word gereguleer deur die Beleid skrywes – “Lidmaatskap” soos goedgekeur en wat van tyd tot tyd en gewysig kan word deur die Uitvoerende bestuur.

 

7.      LEDEGELD:

7.1   Lidmaatskap is geldig vir 1 (EEN) jaar.

7.2   Ledegeld is betaalbaar binne 3 maande na uitreiking van faktuur,

7.3   ‘n Lid wat in gebreke bly om sy ledegelde te betaal soos uiteengesit in 7.2 hierbo sal ophou om lid van die vereniging te wees en sal sy naam uit die lederegister geskrap word, en sal dienooreenkomstig geen stemreg hê op die algemene jaarvergadering nie.

7.4   Ledegelde word gereguleer deur die Beleid skrywes– Ledegelde soos goedgekeur deur die Uitvoerende bestuur en kan van tyd tot tyd verander word op besluit van die uitvoerende bestuur.

 

8.      SAMESTELLING VAN DIE BESTUUR VAN DIE VERENIGING:

Die bestuur van die vereniging sal bestaan uit:

8.1   ‘n Uitvoerende bestuur wat saamgestel word uit die volgende ampsdraers:

8.1.1   President.

8.1.2   Voorsitter.

8.1.3   Onder-Voorsitter (Maksimum 2).

8.1.4   Sekretaris.

8.1.5   Tesourier.

8.1.6   Soveel addisionele bestuur poste soos van tyd tot tyd benodig, welke bepaal kan word in relevante beleid skrif, uitgevaardig kragtens ‘n uitvoerende bestuursbesluit;

8.1.7   Die Voorsitters en Onder-Voorsitters van al die takke.

8.1.8   Die Hoof uitvoerende beampte van die vereniging.

8.2   Bogemelde ampsdraers, uitgesonder amptenaars in paragraaf 8.1.7 en 8.1.8 gemeld, sal ten minstens twee (2) jaarliks verkies word deur alle teenwoordige lede op die algemene jaarvergadering.

8.3   Die Uitvoerende dagbestuur sal bestaan uit ampsdraers soos genoem in paragraaf 8.1.1 tot 8.1.5.

8.4   Die Tak voorsitters en Tak Onder-voorsitters word 2 (twee) jaarliks verkies op tak vlak.

8.5   Die Hoofuitvoerende beampte sal aangestel word deur die Uitvoerende Bestuur van die vereniging en sal sitting, maar geen stemreg hê op die Uitvoerende Bestuur van die Vereniging nie. (Verwys paragraaf 13.1.3).

8.6   Takbesture van die vereniging sal bestaan uit die volgende ampsdraers:

8.6.1     Voorsitter.

8.6.2     Onder – Voorsitter/s (‘n Maksimum van 2 sal oor stemreg beskik op uitvoerende bestuur).

8.6.3     Sekretaris.

8.6.4     Tesourier.

8.6.5     Soos voorgeskryf deur die beleid skrywe wat van tyd tot tyd deur die vereniging se uitvoerende bestuur gewysig kan word op ‘n uitvoerende bestuursvergadering.

8.7   Die dagbestuur van die tak sal bestaan uit ampsdraers soos genoem in paragraaf 8.6.1 tot 8.6.4

8.8   ‘n Maksimum van 4 (VIER) Vise-presidente kan jaarliks deur die uitvoerende bestuur aangewys word indien nodig, welke vise-presidente slegs in ‘n adviserende hoedanigheid sal optree en hul termyn vir slegs 1 (een) jaar sal duur. Daar sal elke jaar nuwe Vise-presidente aangewys word.

9.      AMPSTERMYN:

9.1   Lede van die uitvoerende bestuur word verkies vir ‘n tydperk van 2 (twee) jaar, na afloop waarvan sodanige lede herkiesbaar is.

9.2   Lede van takbesture word verkies vir ‘n tydperk van 2 (twee) jaar, na afloop waarvan sodanige lede herkiesbaar is.

9.3   Die bestuurslede, op uitvoerende bestuur- of tak vlak is geregtig om vakatures in hulle midde aan te vul deur middel van koöptasie uit stemgeregtigde lede van die vereniging of tak.

10.  KWORUM:

10.1  ‘n Kworum op ‘n algemene jaarvergadering en ‘n spesiale algemene vergadering is minstens 30 (DERTIG) stemgeregtigde lede. Op tak vlak moet daar minstens 5%   van opbetaalde lede teenwoordig wees om ’n kworum te vorm. Indien daar nie ‘n kworum teenwoordig is tydens die vergadering nie, sal die vergadering verdaag na ‘n alternatiewe datum, op welke datum die dan teenwoordige lede ‘n kworum sal vorm.

10.2    Wat bestuursvergaderings betref sal ‘n kworum bestaan uit die helfte van die lede van ‘n bestuur plus 1 (EEN).

10.3    Stemreg op enige vergadering, by wyse van skriftelike volmag word toegelaat, maar ‘n skriftelike volmag kan slegs gegee word deur ‘n opbetaalde lid “as volmaggewer” aan een ander opbetaalde lid “as gevolmagtigde” en laasgenoemde mag slegs namens een volmaggewer in ‘n vergadering stem waar hy/sy teenwoordig is.


11. NOMINASIE VIR BESTUURSPOSTE:


Alle nominasies vir bestuursposte op die Uitvoerende Bestuur, moet skriftelik ingedien word by die betrokke sekretaris / sekretaresse minstens 7 dae voor die datum van die betrokke bestuursverkiesing. Op tak vlak moet nominasies skriftelik ingedien word by die betrokke sekretaris/ sekretaresse voor die aanvang van die tak se algemene jaar vergadering. Alle nominasies moet skriftelik geskied, onderteken deur die persoon voorgestel en twee ander lede as voorsteller en sekondant. Hierdie reëls is nie van toepassing op dienende of  gekoöpteerde lede nie op bestuur poste nie.


12. AFWESIGHEID VAN VERGADERING:

12.1   Indien ‘n voorsitter van ‘n bestuur van ‘n vergadering afwesig is, sal die Ondervoorsitter in die amp ageer, en in laasgenoemde se afwesigheid sal die aanwesige lede ‘n waarnemende voorsitter uit hulle geledere aanwys

12.2    Indien enige bestuurslid sonder ‘n goeie rede afwesig is van 2 (TWEE) agtereenvolgende vergaderings, kan sodanige lid summier uit sy amp ontslaan word en kan die vakature gevul word deur sodanige persoon as wat op die volgende algemene jaarvergadering aangewys mag word, of wat intussen gekoöpteer word deur die betrokke bestuur.

12.3     Indien die voorsitter en onder-voorsitter van ‘n tak nie ‘n uitvoerende bestuursvergadering kan bywoon nie, moet ‘n lid van die betrokke tak se bestuur aangewys word om die vergadering by te woon as plaasvervanger, welke lid dan vir die betrokke vergadering as ‘n volle lid van die uitvoerende bestuur sal ageer.

13. MAGTE EN PLIGTE VAN BESTURE:


      Die Uitvoerende Bestuur sal verantwoordelik wees vir:

13.1.1     Die vereniging se beeld skakeling na buite en bevordering of nastrewing van die vereniging se doelstellings;

13.1.2     Alle administrasie koördineer en orden met inbegrip van finansies en byhou van ‘n lederegister en lede aktiwiteitsregisters;

13.1.3     Die aanstel van amptenare of werknemers teen vergoeding en op diensvoorwaardes as wat dit wenslik mag ag ter nastrewing van die doelstellings van die Vereniging, en om hierdie amptenare of werknemers na goeddunke te skors of te ontslaan;

13.1.4     Na goeddunke roerende en/of onroerende bates aan te koop, te huur of   andersins te bekom ter nastrewing van die doelstellings van die vereniging, en om sodanige bates te verkoop, te verhuur of op enige ander wyse te vervreem, te belas of van die hand te sit. Alle eiendoms transaksies, hetsy op uitvoerende bestuursvlak of op tak vlak, sal gedoen word in die naam van die Bosveld Jagters- en Wildbewaring vereniging en sal aan die einde daarvan verwys na of Uitvoerende Bestuur of naam van betrokke tak na gelang van die geval;

13.1.5     Alle transaksies soos omskryf in 13.1.4 hierbo op alle vlakke sal onderhewig wees aan die vooraf goedkeuring van die betrokke uitvoerende bestuur of betrokke tak bestuur (na gelang van die geval) en kan nie deur die dag bestuur goedgekeur word nie. Sodanige goedkeuring geskied by wyse van meerderheidstem van die betrokke       bestuur waar ’n kworum teenwoordig is. Die betrokke voorsitter van die relevante bestuur sal gemagtig wees om kragtens resolusie wat volg op goedkeuring by wyse van stemming alle oordrag dokumente of regs dokumentasie te onderteken waartoe hy of sy kragtens die resolusie gemagtig word;

13.1.6     Die toelaat van die stig van takke van die vereniging ter nastrewing van     die doelstellinge en binne die raamwerk van die Grondwet van die vereniging;

13.1.7     Die reël van tussen tak-aktiwiteite;

13.1.8     Die reël van algemene jaarvergadering en jaareinde funksie van die vereniging;

13.1.9     Die beheer, bestuur, onderhoud en instandhouding van alle bates van die vereniging, wat nie op tak vlak as sulks hanteer word nie;

13.1.10   Sal so dikwels vergadering hou as wat nodig is, maar nie minder as een  keer elke vier maande nie;

13.1.11   Die uitvoerende bestuur sal die reg hê om reëls of voorskrifte uit te vaardig in die vorm van beleid skrywe/s wat nodig of dienstig is om enige van die werksaamhede van die vereniging te orden, met inagneming van die takke se belange en ter nastrewing van die vereniging se doelstellings, welke beleid skrif nie in teenstryd moet wees met die Grondwet nie;

13.1.12  Die uitvoerende bestuur sal ‘n bankrekening open by sodanige bank instansie as waarop die meerderheid van die bestuur mag besluit en sal beleggings maak op so ‘n wyse as wat tot voordeel van die vereniging sal strek. Alle betalings of betalings magtiging instruksies van die vereniging sal onderteken word deur minstens 2 (TWEE) persone soos aangewys mag word deur die uitvoerende bestuur van tyd tot tyd;

13.1.13  Die uitvoerende bestuur sal jaarliks besluit oor die verdeling van ledegeld tussen takke en die vereniging se hoofkantoor;

13.1.14  Die verhoor van appèlle ten opsigte van enige dissiplinêre verhoor in terme van die dissiplinêre kode/s soos uitgevaardig van tyd tot tyd;

13.1.15  Aanbevelings doen aangaande toekenning of opskorting van erelidmaatskap;

13.1.16  Notule sal gehou word van alle vergaderings.


Die Takbesture sal verantwoordelik wees vir:

13.2.1     Die bestuur van die betrokke tak van die vereniging se sake binne die raamwerk van die Grondwet en doelstellings van die vereniging en verder ten doel hê om die lede beter te bedien en daardeur die ledetal uit te brei deur aktiewe lede werwing;

13.2.2     Elke takbestuur sal ‘n bankrekening open by sodanige bank instansie as waarop die meerderheid van die bestuur mag besluit. Al die betalings of betaling magtiging    instruksies sal mede-onderteken word deur 2 (TWEE) lede van die takbestuur soos van tyd tot tyd deur die takbestuur aangewys word.

13.2.3     Elke takbestuur is verplig om voor of op 30 Julie van elke jaar finansiële state van die tak in te dien by die tesourier van die uitvoerende bestuur,

13.2.4     Die finansiële state moet deur ‘n onafhanklike rekenmeester opgestel moet word.

13.2.5     Enige bates deur die tak aangekoop of verkry uit eie fondse, asook fondse wat in ‘n tak gegenereer word, of by wyse van donasies aan die tak, of by wyse van toekennings vanaf die uitvoerende bestuur wat deur takke ontvang is, ressorteer onder die beheer van sodanige tak solank die tak voortbestaan as ‘n tak van die vereniging.

13.2.6     Die beheer, bestuur, onderhoud en instandhouding van alle eiendom van die vereniging wat onder sodanige tak ressorteer.

13.2.7     By ontbinding van ‘n tak of indien ‘n tak ophou om te funksioneer, val alle gelde, bates en eiendom wat onder beheer van sodanige tak was, toe aan en ressorteer dan onder die beheer van die uitvoerende bestuur van die vereniging, tensy ’n bemaking of donasie spesifiek anders skriftelik bepaal.

13.2.8     Notule sal gehou word van alle tak vergaderings, en afskrifte van die goedgekeurde notules moet op die voorgestelde wyse soos uiteengesit in die beleid skrywe gestoor word.

13.2.9     Die finansiële aangeleenthede van elke tak word gereguleer deur die beleid skrywe, “Finansiële bestuur van takke” soos goedgekeur deur die uitvoerende bestuur en gewysig deur die uitvoerende bestuur van tyd tot  tyd.


14. REDAKTEUR:


Die redakteur sal met sitting maar sonder stemreg op die uitvoerende bestuur deur die uitvoerende bestuur aangewys word. Die Impala en nuusbriewe sal die
verantwoordelikheid wees van die redakteur bygestaan deur sodanige gekoöpteerde lede as van toepassing.


15. DIE ADVIESKOMITEE:


SAMESTELLING:

Die advieskomitee sal bestaan uit:

15.1        Die President.

15.2        Die Voorsitter van die Uitvoerende Bestuur

15.3        Al die Vise-presidente

15.4        Al die Ere Lede

16.      MAGTE EN PLIGTE VAN DIE ADVIESKOMITEE

16.1 Die advieskomitee sal alleenlik adviserende pligte en geen uitvoerende magte hê nie.

16.2 Die advieskomitee sal nie gereeld vergader nie maar sal op versoek van die president of die voorsitter van die uitvoerende bestuur vergader om enige aangeleentheid te oorweeg en advies ten opsigte van sodanige aangeleentheid aan die uitvoerende bestuur te gee.

16.3 Notule sal gehou word van alle vergaderings.


17. DISSIPLINÊR:

17.1 Die dissiplinêre dode vorm ‘n addendum tot hierdie Grondwet en word hierby aangeheg.

17.2 Enige dissiplinêre optrede teen ‘n lid sal onderhewig wees aan die dissiplinêre kode en sal sodanige dissiplinêre optrede en/of stappe gedoen word, soos voorgeskryf in die dissiplinêre kode.

17.3‘n Lid wat deur ‘n bevoegde hof skuldig bevind word aan ‘n wesenlike kriminele oortreding van enige owerheid, provinsie of land en welke oortreding in stryd is met die vereniging se doelstellings, is nie verkiesbaar vir enige amp van ‘n takbestuur en/of uitvoerende bestuur nie en mag dan ook nie op sodanige besture dien nie.


18. ALGEMENE UITVOERENDE JAARVERGADERINGS:

 

       18.1   Die algemene jaarvergadering van die vereniging sal gehou word te Pietersburg (Polokwane) op so ‘n datum as wat die uitvoerende bestuur op mag besluit maar nie later as die einde van November van elke jaar nie.

18.2  Lede sal skriftelik of elektronies in kennis gestel word, minstens 7 (Sewe) dae voor die datum waarop die Jaarvergadering gehou sal word.

18.3   Alle lede wie se ledegelde op datum betaal is, uitgesluit junior lede, aanlyn lede en affiliaal lede sal stemgeregtig wees op die jaarvergadering en sal slegs een stem hê (tensy volmag gehou word vir addisionele stem namens ander opbetaalde lid) oor elke afsonderlike aangeleentheid wat tot stemming gebring word.

18.4            Op die algemene jaarvergadering sal:-

18.4.1     Die notule van die vorige algemene jaarvergadering gelees word;

18.4.2     Die verslae van die voorsitter van die uitvoerende bestuur en die President behandel word;

18.4.3     Die finansiële state van die vereniging behandel en bespreek word;

18.4.4     Voorstelle oorweeg word aangaande die verandering van die Grondwet;

18.4.5     Goedkeuring of afkeuring van die voorgestelde jaarlikse ledegelde;

18.4.6     Sake van algemene belang bespreek word;

18.4.7     Die verkiesing van die aangewese ampsdraers van die uitvoerende  bestuur geskied.

18.4.8     Die aanstelling van ouditeure of onafhanklike rekenmeesters van die Vereniging, en aanbeveel of ‘n volledige oudit of slegs ‘n onafhanklike finansiële oorsig jaarliks gedoen moet word van die vereniging se finansiële sake.

18.4.9     Alle besluite sal by wyse van gewone meerderheidsbesluit beslis word, uitgesonder voorstelle van wysiging van die Grondwet soos bepaal word.


19. SPESIALE ALGEMENE UITVOERENDE VERGADERING:

19.1      Die uitvoerende bestuur het die reg en is daartoe verplig indien dertig stemgeregtigde lede hulle skriftelik sodanig versoek het, om met minstens 7 (Sewe) dae skriftelike of elektroniese kennisgewing ‘n spesiale algemene vergadering te belê.

19.2      Slegs sake wat vooraf skriftelik versoek en op die sakelys van die vergadering geplaas is sal hanteer word.

19.3      Sake lys bevattende die sake vir bespreking op die spesiale algemeen  vergadering moet die kennisgewing van die vergadering vergesel.


20. ALGEMENE JAARVERGADERINGS OP TAKVLAK:

20.1      Die algemene jaarvergadering van die vereniging se takke sal gehou word by die betrokke tak op so ‘n datum as wat die tak bestuur op mag besluit maar nie later as die einde van Junie van elke jaar nie.

20.2      Lede sal skriftelik of elektronies in kennis gestel word, minstens 7 (Sewe) dae voor die datum waarop die jaarvergadering gehou sal word.

20.3      Alle lede wie se ledegelde op datum betaal is, uitgesluit junior lede, sal stemgeregtig wees op die jaarvergadering en sal slegs een stem hê (tensy volmag gehou word vir addisionele stem namens ander opbetaalde lid) oor elke afsonderlike aangeleentheid wat tot stemming gebring word.


20.4    Op die algemene jaarvergadering sal:-

20.4.1    Die notule van die vorige algemene jaarvergadering gelees word;

20.4.2    Die verslae van die voorsitter van die uitvoerende bestuur en die President behandel word;

20.4.3    Die finansiële state van die vereniging behandel en bespreek word;

20.4.4    Voorstelle oorweeg word aangaande voorstelle vir verandering van die Grondwet;

20.4.5    Sake van algemene belang bespreek word;

20.4.6    Die verkiesing van die aangewese ampsdraers van die takbestuur geskied;

20.4.7    Aanwys van rekenkundige beampte van die tak;

20.4.8    Alle besluite sal by wyse van gewone meerderheidsbesluit beslis word.


21. SPESIALE ALGEMENE TAK VERGADERING:

21.1      Die tak bestuur het die reg en is daartoe verplig indien 5% van opbetaalde tak stemgeregtigde lede hulle skriftelik sodanig versoek het, om met minstens 7 (Sewe) dae skriftelike of elektroniese kennisgewing ‘n spesiale algemene vergadering te belê.

21.2      Slegs sake wat vooraf skriftelik versoek en op die sakelys van die vergadering geplaas is sal hanteer word.

21.3      Sake lys bevattende die sake vir bespreking op die spesiale algemene vergadering moet die kennisgewing van die vergadering vergesel.


22. ALGEMEEN:

22.1      Op enige vergadering van die vereniging sal stemming of by wyse van die opsteek van hande of by wyse van geslote stembriewe geskied. Die vergadering sal by magte wees om die wyse van stemming te bepaal,

22.2      Op alle vergaderings van die vereniging sal die Voorsitter ‘n gewone stem sowel as ‘n beslissende stem hê.

22.3      ’n Voorsitter mag nie ’n voorstel indien nie.

22.4      Voorstelle vir wysiging van die Grondwet sal alleen toegelaat word mits kennisgewing van enige sodanige wysiging aan al die lede van die vereniging gegee is minstens 21 dae voor die datum van sodanige vergadering. Die kennisgewing kan skriftelik of elektronies en met plasing op die webblad geskied. Wysiging van die Grondwet sal alleen kan geskied mits minstens twee derdes van die aanwesige lede, daartoe instem.

22.5      Ingeval daar besluit word op die ontbinding van die vereniging, sal op ‘n algemene uitvoerende vergadering deur minstens een derde van die ledetal van die vereniging besluit word oor hoe daar beskik moet word oor die bates van die vereniging. Indien minder as een derde van die ledetal op so ‘n vergadering teenwoordig is sal die vergadering verdaag word vir ‘n tydperk van 21 (EEN EN TWINTIG) dae op welke datum die vergadering hervat en alle sake afgehandel word ongeag van die aantal lede wat op so ‘n vergadering teenwoordig is.

22.6      ‘n Besluit tot die ontbinding van die vereniging kan slegs op ‘n spesiale algemene uitvoerende vergadering waar minstens een derde van die opbetaalde lede teenwoordig is, geneem word.

22.7      Alle ander aangeleenthede wat nie gespesifiseer is in hierdie grondwet nie is streng onderhewig aan die betrokke Beleid skrywes soos goedgekeur deur die vereniging se uitvoerende bestuur en wat op ‘n uitvoerende bestuursvergadering gewysig kan word van tyd tot tyd.


23. ERE-TOEKENNINGS AAN LEDE:

       ‘n Ere-toekenning wat bekend sal staan as die “Honoris Signum” toekenning kan toegeken word deur die Uitvoerende Bestuur aan ‘n lid wie minstens:

23.1      Vir ‘n ononderbroke tydperk van 5 (VYF) jaar ‘n volopbetaalde lid van die vereniging was en uitsonderlike voortreflike en onbaatsugtige diens aan die vereniging  in die besonder of die jagsport in die algemeen gelewer het, of

23.2      Vir ‘n tydperk van 10 (TIEN) jaar op ‘n Bestuur en/of die Advieskomitee gedien het.

    23.3          Die Uitvoerende en tak dagbesture en hoof portefeulje draers se jare diens geld onder 23.2


24. TROFEE REËLS


Trofee kompetisie reëls kan slegs gewysig word op ‘n algemene uitvoerende jaarvergadering nadat 7 (SEWE) dae skriftelike of elektroniese kennisgewing gegee is van voorgestelde wysigings.