JUNIOR 2

9 Augustus is Vroue Dag maar letaba se manne het ander planne, alles is in plek en ons vertrek van Tzaneen af Mussina toe met 12 baie opgewonde kinders (10 seuns en 2 dogters). Ja ons is oppad om te gaan jag by Neels v Rensburg by Hardekool Jag Safasi’s so 60 km buite Mussina op die Alldays, Pondrift pad.

Die pad is lank maar word nog langer toe ons net buite Louis Trichard ‘n ompad via Witvlag moet vat as gevolg van ‘n ongeluk op die pas.

Philip Robenson en Coenie Scheepers was Woensdag al op die plaas om die kamp reg te kry en toe ons daar aankom staan hulle klaar reg met ‘n iets te ete.

Ons is 7 instrukteurs, 12 kinders, 3 pa’s wat van ver af gery het (Pretoria, Witbank en Witrivier), en die kos en kamp span wat uit ‘n verdere 3 lede bestaan.

Die plaas is 6000 hektaar mopanie veld en dit is droog en ruig. Die kamp is ‘n boskamp met 2 spoel toilette, ‘n stort, ‘n krip en ‘n warmwater donkie. Ons het ons eie tente saam gebring en met ons aankoms is dit gou kamp opslaan , beddegoed regkry en ‘n vinnige boerewors rolletjie deurwerk en dan is dit jag tyd. Daar is looitjies getrek en die 6 kinders wat die kort looitjie getrek het moet sorg dat die kamp reg is en dat daar genoeg hout is vir die aan se kampvuur en kos maak. Die ander 6 kry elkeen ‘n instrukteur  ‘n geweer en dit is veld toe.

Soos reeds gesê is die veld ruig en die jag is moeilik en na die middag sessie is dit 6 moeë kinders en instrukteurs wat uit die veld uit kom sonder enige sukses. ‘n kuoe koeldrank wag vir die kinders en die volwassenes kan die stof met ‘n Lagertjie af sluk. Ons eet lekker, kuier om die kampvuur en 22:00 is dit ligte uit. Die “geni” word afgesit en almal is bed toe.

Toe die “geni” Vrydag oggend 06:00 start is daar reeds ‘n hele groepie om die vuur besig om koffie te drink, beskuit te eet en planne te maak vur die dag se jag.

Nou is dit die ander 6 kinders se beurt om saam met die instrukteurs bos toe te gaan, toe hulle so teen 11:00 kom “brunch” soek is daar nog steeds geen sukses nie. Ons verander ons strategie en pas by die omstandighede aan en na die middag sessie is daar ‘n rooibok en twee duikers in die koelkamer.

Saterdag breek aan en ons is vroeg weer veld toe, na die sessie is daar ‘n vlakvark en ‘n rooibok by maar daar word hard gesoek na ‘n kwesbok. Die middag sessie word preoriteit gegee aan die opspoor van die kwesbok en 2 instrukteurs, ‘n spoorsnyer, die skut en ‘n spoorhond word ingespan.

Die res van die groep jag op ander dele van die plaas en teen 16:00 skiet die kleinste meisie die grootste rooibok (21.25duim) haar pa wat ook ‘n instrukteur is was saam met haar en ‘n mens sou sê hy het ‘n trofee Eland geskiet soos wat hy glimlag. Nog twee kinders behaal sukses en die twee maats skiet kort na mekaar elkeen ‘n mooi koedoe koei. Vannaand kan ons rustiger slaap want nog net 3 kinders moet nog jag.

Na aandete gaan Carel Buitendag, Tertius Erasmus en Sasha(die hond) weer in die donkerte uit veld toe (gewapen met ‘n flits en ‘n rewolwer) om die kwesbok te soek. Hulle kom half een die nag terug in die kamp, moeg en uitgeput maar steeds sonder die kwesbok.( ‘n kwesbok kry jy maar op die beste van jagte, dis nie lekker nie maar dit is die realiteit).

Sondag gaan ons gou nog ‘n laaste poging aanwend om die 3 kinders te laat jag, dit is nie vir hulle beskore nie en dit is huistoe gaan tyd.

Ons eet ‘n stewige ontbyt endan word die kamp afgebreek. Die voertuie word gepak, die bokke word gelaai en dan is dit tyd om al die vriende te groet. Wat ‘n naweek, wat ‘n voorreg om in die toekoms te kan belê en wat ‘n voorreg om ‘n God gegewe passie en liefde saam met die kinders en mede jagters te kan meemaak.

My opregte dank aan:   Phillip, Coenie en Louis(Die kamp en kos span)  Cor, Lucas, Carel, Dawie, Etienne en Tertius(Die Instrukteurs) en dan die twee Louis’s en Cassie(Die Pa’s)

Dankie ook aan Neels van Hardekool Jag Safari’s wat die plaas en boskamp teen geen koste aan ons beskikbaar gestel het.